Spoetnik 2

’n Replika van Spoetnik 2.

Spoetnik 2 (Russies: Спутник-2; volle naam Простейший Спутник-2, Prosteisji Spoetnik-2, of Elementêre Satelliet-2) was die tweede satelliet wat om die Aarde gewentel het. Dit is op 3 November 1957 deur die Sowjetunie gelanseer en was die eerste satelliet met ’n lewende dier, die hond Laika.

Posseël ter herdenking van Spoetnik 2.

Die satelliet was ’n 4 meter hoë, keëlvormige kapsule. Dit het verskeie kompartemente gehad vir radiosenders, ’n telemetriestelsel, ’n programmeringseenheid, ’n temperatuurbeheerstelsel en wetenskaplike instrumente. Die hond Laika was in ’n spesiaal verseëlde kajuit.

Ingenieurs- en biologiese data is 15 minute lank tydens elke omwenteling na die aarde gestuur deur ’n Tral D-telemetriestelsel. Twee meters het son-, ultraviolet-, kosmiese en X-strale gemeet. Daar was nie ’n televisiekamera aan boord nie – foto's van honde op Spoetnik 5 word dikwels verkeerdelik as dié van Laika geïdentifiseer.

Spoetnik 2 is in ’n 212 x 1 660 km-wentelbaan geplaas met ’n vuurpyl soortgelyk aan die een wat vir Spoetnik 1 gebruik is. Nadat die satelliet sy wentelbaan bereik het, is die neuskeël suksesvol afgeskiet, maar die Blok A-kern het nie soos beplan afgeskei nie. Dit het die werking van die hittebeheerstelsel in die wiele gery. Verder het ’n deel van die isolasiemateriaal afgeskeur, wat tot gevolg gehad het dat die binneruim temperature van tot 40 °C bereik het. Daar word gereken dat Laika weens die hitte net ’n paar uur oorleef het in plaas van die beplande 10 dae. Spoetnik 2 se wentelbaan het afgeneem en dit het die aarde se atmosfeer op 14 April 1958 binnegedring ná 162 dae in die ruimte.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy